Geskiedenis

Geskiedenis van Kakamas Biblioteek

Die geskiedenis van Kakamas Biblioteek is baie interresant. Daar kan egter nie van die biblioteek se geskiedenis gepraat word sonder om van die dorp self te praat nie.

Kakamas lê 80km van Upington in die Noord-Kaap aan weerskante van die Oranjerivier. Die wêreldbekende Augrabies Waterval Nasionale Park is slegs 40 km vanaf Kakamas.

Die naam Kakamas is afgelei van Tekamas of T'kakamas wat "die plek van die kwaai koei" beteken. In 1779 het die Korannas hulle beeste deur 'n drif gejaag toe hulle blykbaar deur 'n kwaai koei bestorm is. In 1870 is 'n sendingstasie hier opgerig, maar tydens die Koranna-oorlog weer gesluit. In 1898 het die NG Kerk 'n arbeidskolonie vir arm boere en ander behoeftiges hier geskep.

Op 4 November 1953 het die inwoners 'n vergadering in die skoolsaal gehou met die doel om 'n biblioteek in Kakamas te stig. Samesprekings is met die Direkteur van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens gehou. In Julie 1956 stel die NG Kerk 'n vertrek beskikbaar vir die tydelike huisvesting van die biblioteek. Op 5 Maart 1958 is die hoeksteen van die Kakamas Openbare Biblioteek deur Ds. FDJ Brand gelê en op 30 Augustus 1958 is die biblioteek amptelik deur Mnr. T Friis, Direkteur van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens, geopen.

Kakamas het geweldig gegroei en uit sy nate gebars en op 1 Desember 1964 word die arbeidskolonie 'n munisipaliteit. Die Kakamas Biblioteek word gedurende 1992 vergroot en op 14 April 1993 word die nuwe biblioteekgebou amptelik deur Mnr. D Adams, Lid van die Uitvoerende Komitee, geopen.

Op 5 Desember 2008 word Kakamas Biblioteek se "Toy Library" geopen. Ons het verskeie opvoedkundige speelgoed waarmee die kinders kan speel.

Op 1 November 2011 het Kakamas Biblioteek ook gerekenariseer. Die ou handstelsel word nou nie meer gebruik nie. Alles word nou met die nuwe SLIMS (Sita Library Information Management System) gedoen.

Besoek ons gerus en kom kyk wat Kakamas Openbare Biblioteek u alles bied!

No comments: